top of page
Writer's pictureMej. Wysneus

'Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom' - Boek Resensie


Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom is ‘n lekkerlees boek deur Marita van der Vyver. Die storie suig mens binne die eerste paar bladsye só diep in Hanna Hoekom se wêreld dat jy nie kan wag om die bladsy om te blaai om uit te vind wat volgende gaan gebeur nie.


Almal dink soms dat hulle die enigste normale persoon in die gesin is, net so dink Hanna ook, maar Hanna het alles behalwe ’n normale gesin: met ‘n mallerige kunstenaar ma wat bont en vreemd aantrek en verfkwaste (wat soms nog vuil is) in haar hare dra (en boonop swanger is), ’n half broer met ’n vreemde oorsprong, twee stief broers met ‘n ongewone name en haar eie pa wat ook maar ’n vreemde geskiedenis het, om maar net ’n paar van die interessante karakters te noem. Hanna aan die ander kant is 'n vaal, amper vyftienjarige, meisiekind met byna geen borste nie, 'n klein gaping tussen haar voortande en 'n paar puisies - heeltemal gemiddeld - behalwe vir haar vrugbare verbeelding en fantastiese skryftalent .

Alhoewel Hanna ’n interessante familie en ’n beeldskone, ryk vriendin het, is sy verveeld met haar lewe. Maar soos elke goeie storie betaam, besluit haar ma en Beyers, haar stiefpa, om die gesin en Sharon, haar beeldskone vriendin, na ’n verlate huis op Botterberg, of “Bitterberg” soos Hanna dit noem,


te neem vir n “wittebrood”. Dit is nie haar idee van pret nie en sy wens sy kan iemand anders se lewe hê. Iemand met perfekte tande, normale ouers (met normale beroepe) en 'n perfekte lewe – verkieslik moet haar naam iets eksoties wees soos Fabienne. Hanna begin stories uit die oë van haar alter ego, Fabienne, skryf.

Kortvoorlank word hulle as gevolg van ’n verwoede reënbui vasgekeer in die huis en ongenooide gaste daag een vir een op. Gaan Hanna die “wittebrood” oorleef?

Die titel van die verhaal, Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom, is baie gepas; Hanna neem die leser saam op haar verbeeldings avonture sowel as die onwaarskynlike werklike, interessante gebeure in haar lewe. Die taalgebruik van die hoofkarakter is dié van ‘n jong, ontwikkelende skryfwer – dus maak dit die verhaal baie effektief en geloofwaardig.

Ek het Die Ongelooflike Avonture van Hanna Hoekom baie geniet. Dit is 'n maklik leesbare boek wat mens soms lekker laat lag en ook soms oor die gebeure laat nadink. Die boek is so geskryf dat die hoofkarakter se gedagtes weerspieël word en maak dit soveel meer geloofwaardig. Dit was absuluut fantasties om te lees en alhoewel die boek gemik is op tieners , was dit besonders vervullend en sal ek enigeiemand, oud of jonk, aanbeveel om hierdie boek te lees.



302 views0 comments

Comments


Post: Blog2_Post
bottom of page